051 410 0953   june@studbook.co.za  
Romagnolia Articles | Vars bries in kruisteling

Vars bries in kruisteling


Sonder om groter of meer vleisraskoeie op die plaas aan te skaf, kan aansienlik meer vleis geproduseer en die wins per hektaar vergroot word - gebruik net die regte bul vir dié doel.

Suid-Afrikaanse vleisbeesboere in die ekstensiewe weidinggebiede van die land is dit feitlik deur die bank eens dat 'n dier met 'n mediumgrootte raam die ideaal is om mee te boer - veral ten opsigte van teelkoeie. En dít geld ál die rasse. Maar is dit werklik die mees winsgewende benadering?

In die ekonomiese milieu waarin die landbou tans moet funksioneer - in baie gevalle net om kop bo water te hou - het dit dalk tyd geword om ook oor voorgenoemde veralgemening te tob. Weliswaar moet 'n mens nie maklik torring aan 'n stelsel wat goed werk nie, solank juis dít nie die deur na alternatiewe dig skop nie. 

Mnr. Dail van Rensburg van Kalkpan, Delareyville, het gewaag om die kwessie van raamgrootte vars te benader. Enkele jare van vergelykende stu-die en proewe in sy eie boerdery het verrassende resultate opgelewer. Sonder om die raamgrootte van sy teelkoeie te vergroot, kan hy nou van dieselfde koeie op dieselfde weiding meer vleis bemark teen 'n relatief lae bykomende insetkoste.

Die geheim is 'n terminale kruisteeltprogram in sy kommersiële koeikudde - wat hoofsaaklik uit eerstekruiskoeie van verskillende rasse bestaan - waarop hy 'n Romagnolabul gebruik. 

'n Kerngroepie diere van dié ras is die eerste keer in 1995 uit Italië ingevoer en voorbeelde van die diere is tydens die destydse Randse skou vertoon. Dit was interessant om te sien hoe beesboere by hierdie uitstalling net die kop geskud het, veral weens die grootte en bespiering van die diere. Van Rensburg het daarenteen besluit om meer oor dié ras met sy baie vleis te wete te kom. 

Die Romagnola se oorsprong is die inheemse beeste van die Italiaanse skiereiland, gekombineer met Bos indicus-bloed wat in die 4de eeu n.C. saam met die Gotiese invallers uit die Euro-Asiatiese vlaktelande in Noord-Italië beland het. Wat tipe betref, praat die Italianers van die Romagnola as 'n "Podolica" - dus nóg Bos taurus nóg Bos indicus. Gevolglik bied die Romagnola 'n wye genetiese uitkruispotensiaal wat noodsaaklik is om die maksimum heterose, of basterkrag, te kan benut. 

Wat grootte betref, sê Van Rensburg dat suiwer geteelde bulle sowat 1 000 kg tot 1 500 kg weeg en koeie 700 kg tot 900 kg, terwyl kalwers by geboorte gemiddeld 45 kg weeg. Op sigwaarde laat dié feite Suid-Afrikaanse vleisbeesboere gewoonlik regop sit.

Feit is egter dat die bul 'n relatief klein kop en ligte skouer vir sy grootte het. Sy kalwers is by geboorte dus opmerklik lank en beweeg as gevolg daarvan maklik deur die geboortekanaal. In vroeëre proewe met dié ras by die LNR se Instituut vir Diereverbetering by Irene is byvoorbeeld ondervind dat daar selfs by Afrikaner- en Ngunikoeie nie probleme met Romagnola-kruiskalwers ondervind is nie. Die pas gebore kalwers is boonop baie lewenslustig en besonder gou aan die gang. 

Dit is veral hierdie twee eienskappe - naamlik maklike geboorte en goeie volgehoue groei by die kruisnageslag - wat Van Rensburg oorreed het om die Romagno-la as terminale vaderlyn by sy kommersiële mediumraam-koeikudde van Santa Gertrudis- en Brahman-tipes te gebruik. En dit werk, sê hy. Die resultaat was dat sy Santa-tipe koeie bulkalwers kan lewer waarvan die gewig op die ouderdom van tien maande tussen 420 kg en 500 kg wissel. Op 205 dae speen hy dié kalwers teen gemiddeld 285 kg vir bulle en 260 kg vir verse.

Wat as 't ware as 'n bonus beskou kan word, is dat die kalwers ná speentyd ook langer as wat gewoonlik die geval is aanhou om goed te groei, sonder om te veel vet aan te sit. Deur sulke 10 maande oue diere vir 62 dae in sy eie voerkraal af te rond, word 'n gemiddelde daaglikse gewigstoename van 2,2 kg behaal. 

Van Rensburg som die resultate van sy proefneming só op:

Hy het nie nodig om sy stelsel van beesboerdery te verander om meer wins te maak nie. Hy gebruik sy bestaande koeikudde wat betref tipe, ensovoorts, en wat op sy plaas aangepas is. Hy hoef ook nie meer koeie aan te hou om van dieselfde veld meer vleis te kan produseer nie. Die enigste bykomende uitgawe is die koste van 'n Romagnolabul of -bulle.

Dié benadering bied 'n keuse: Óf hy kan swaarder speenkalwers op die ouderdom van 7 maande tot  71/2 maande verkoop (wat buitendien by voerkrale gewild is weens hul baie goeie groei) óf hy kan - soos hy verkies - sy eie diere met sy eie mielies en rantsoen in 'n latere stadium afrond en direk verkoop, of self laat slag. 

Per slot van sake kry die boer tog meer geld vir meer vleis. En Van Rensburg noem as voorbeeld 'n 12 maande oue kalf wat 500 kg weeg en 58 % uitslag - teen R15,40/kg is dit op 'n paar rand na R4 500 in jou sak. 
.
 



ARTICLE INDEX  BACK TO TOP

 -



© Romagnola Cattle Breeders' Society. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of Romagnola Cattle Breeders' Society.